Chas Everitt Cape Agulhas Rolbaldag

Chas Everitt Bowling Club Sponsor

Die jaarlikse Chas Everitt Rolbaldag het op Saterdag, 17 Desember 2022, op L’Agulhas plaasgevind. Vanjaar het Piet en Strepies van Wyk weer eens ‘n ruim borgskap beskikbaar gestel wat die dag se prysgeld, etlike plotbordpryse, gelukkige trekkings, ‘n heerlike broodtafel en smullekker versnaperinge na spel ingesluit het. Piet en Strepies, as klub kan ons julle nie genoeg bedank vir hierdie ruim borgskap nie!

Daar het 8 spanne van ander klubs kom deelneem asook 6 spanne van L’Agulhas Rolbalklub wat deur die keurkomitee saamgestel is. Die spanne van buite was van Bredasdorp, Franskraal en Witsand afkomstig. Vier wedstryde van 12 skofte elk is gespeel, met ‘n kinkel in die kabel. Elke speler het slegs met 2 balle gespeel en nie met die gebruiklike 3 balle nie. Hierdie formaat het meegebring dat ‘n ekstra wedstryd ingepas kon word.

Jeanette Victor en haar flukse span dames was vir die heerlike middagete en teepouse se eetgoed verantwoordelik, terwyl Jacques Prins met ywer gesorg het dat op ‘n puik baan gespeel kon word.Die wenners van die dag was nie ‘n verrassing nie! Hulle was die span van Bredasdorp onder leiding van Annelie de Jager saam met Pieter de Wet en Kobus Burger (‘n beginner). Hulle het van meet af aan baie goeie rolbal gespeel en deur die dag daarop voortgebou. In die tweede plek was dit ‘n span van Franskraal onder leiding van Danie Delport.

Corrie Smit, Stefan Byleveld en Hannes Human van L’Agulhas het verras met hul derde plek wat beteken het dat hul die beste van die tuisspanne gevaar het.

Niemand is met leë hande weg nie. Elke deelnemer het ‘n verrassingspakkie van Chas Everitt ontvang – insluitend ‘n geskenkbewys vir die kroeg.
Nogmaals ‘n hartlike dank aan Chas Everitt Kaap Agulhas se borgskap wat so vol verrassings was!

Wenners:
1e : Annalie de Jager en span van Bredasdorp
2e: Danie Delprot en span van Franskraal
3e: Corrie Smit en span van L'Agulhas

Soek jy eiendom naby die Rolbal aksie?

Leiers in Eiendom Verkope en Vennote wat jy kan Vertrou