Chas Everitt Kaap Agulhas het Saterdag, 10 September 2022, die Boere teen Dorp Gholfdag op Bredasdorp geborg. Goeie vriendskap is opsy geskuif terwyl die spelers ernstig gekompeteer het. In 1968 het Suidhoek Verspreiders die beker geskenk vir die Gholf kompetisie tussen Boere en Dorp en altesaam is daar nou reeds 41 keer meegeding in hierdie gewilde kompetisie.
So lyk die telbord na die laaste 41 jaar!
Dorp - 27 keer gewen; Boere - 13 keer gewen; Gelykop - 1 keer (1971)
Boere wen hierdie jaar met 3 punte!
1ste plek – Gideon en Marlene Albertyn 47 punte
Fantastiese spangees het geheers onder al die deelnemers, en alhoewel daar geen "nat gate" was nie, was daar darem 'n bietjie boeretroos wat met 'n kannetjie omgegaan het.
Die dag is begin met 'n heerlike langtafel ontbyt en danksegging aan ons Vader wat alles onderhou. Dit was ‘n gesellige dag met heerlike lenteweer, lekker kompeterende golf dart, en 'n besondere geleentheid waartydens spelers en vriende die geleentheid gehad het om een van die beste gholfbane in die Overberg te geniet.
En op 'n baie hoë noot is die dag afgesluit met steak en chips en natuurlik feesvieringe wat tot laat aangehou het.
Baie dankie aan al die deelnemers vir jul uitstekende sportman gees, asook vir al die besoekers en ondersteuners.